Graad 12 Wiskundige Geletterdheid

  • Les 9-Inkomstes en Uitgawes
  • NOTAS
  • Inkomste en uitgawes

    Die meeste mense en die meeste besighede doen besigheid om 'n wins te maak. Basies beteken wins om meer geld te maak as wat jy uitgee.

    Baie mense verwar wins met inkomste. As gevolg daarvan kan hulle nie verstaan waarom al hulle inkomste hulle nêrens bring nie en waarom hulle altyd 'n tekort aan geld het. Die wins van 'n besigheid word bereken deur die verskil tussen die inkomste en uitgawes te neem.

    Die prys waarvoor 'n maatskappy sy produkte en dienste verkoop, beïnvloed die winsgewendheid van die maatskappy, maar dit is nie die enigste faktor nie – die koste betrokke voor jy die produk kan verkoop, is ook belangrik.

    Die koste sluit meer as net die aankoop- of produksiekoste van 'n item in. 'n Kleinhandelaar koop dalk produkte en vervoer dit na 'n pakhuis waar dit vir verkope voorberei moet word. Al hierdie stappe dra tot die koste van 'n item by.

    Die koste van 'n besigheid (en huishouding) word oor die algemeen in veranderlike en vaste uitgawes verdeel.

    Die uitgawes kan soos volg voorgestel word:

    Vaste uitgawes

    Dit is koste wat oor 'n tydperk konstant bly. Dit verander nie in verhouding tot die besigheidsaktiwiteite nie. Dit moet betaal word, ongeag of enige produkte verkoop word. Vaste uitgawes kan redelik akkuraat 'n jaar vooruit geskat word en kan vir begrotingsdoeleindes gebruik word.

    Vaste koste vir 'n maatskappy sluit die volgende in:

    Huur

    Salarisse

    Langtermynhuur van masjiene

    Lisensies

    Waardevermindering

    Betalings op lenings

    Sekuriteit

    Internettoegang

    Administrasie

    Versekering

    Tipiese huishoudelike vaste uitgawes sluit in:

    Huislening- of huurbetalings

    Motorbetalings

    Munisipale belasting

    Versekeringspremies

    Skoolgeld

    TV-lisensie

    Internettoegang

    Huurkoopkontrakte

    Huishoudelike hulp

    Veranderlike uitgawes

    Veranderlike uitgawes vir 'n besigheid hang van die produksievlak af.

    Soos die produksievolume styg, so sal die koste styg.

    Veranderlike koste vir 'n besigheid sluit die volgende in:

    Lone of verkoopskommissie

    Materiaalkoste – die hoeveelheid wat jy bestel, hang af van die hoeveelheid wat jy moet voorsien

    Telefoon

    Elektrisiteit en water

    Tipiese huishoudelike veranderlike uitgawes sluit in:

    Huisonderhoud soos verf

    Tuinonderhoud

    Telefoon

    Kruideniersware

    Klere

    Petrol

    Elektrisiteit en water

    Vermaak

    Dit is belangrik om te verstaan hoe die verskillende soorte uitgawes verander soos die produksie- of verkoopsvolume styg. Die totale vaste koste bly dieselfde soos die volume toeneem, terwyl die vaste koste per eenheid afneem.

    Voorbeeld:

    Peter het 'n klein besigheidjie wat fietse diens. Sy totale vaste koste is R1 500.

    Dit kos R150 om een fiets te diens.

    As net een fiets gediens word, is die koste vr die een fiets R1 650.

    As 12 fietse gediens word, sal elke diens:

    R150 + R1 500 ÷ 12 = R275 kos

    As 40 fietse gediens word, sal elke diens:

    R150 + R1 500 ÷ 40 = R187,50 kos

    Dit is belangrik dat 'n maatskappy sy koste verlaag, ten einde sy winsgewendheid te verbeter.

    Let daarop dat salarisse onder vaste koste en lone onder veranderlike uitgawes val. Dit is omdat 'n salaris is 'n vaste bedrag is, wat maandeliks betaal word en nie van verkope afhang nie; daarenteen word lone gewoonlik per uur betaal en die koste sal afhang van hoeveel uur die werknemer gewerk het.

    Inkomste

    Inkomste word ook in die kategorieë vaste of veranderlike verdeel.

    Vaste inkomste is wat definitief maandeliks ontvang word.

    Veranderlike inkomste verander van maand tot maand.

    'n Besigheid se inkomste word uit die verkoop van goedere of dienste ontvang. Die meeste van die inkomste is veranderlik. Die enigste vaste inkomste sou uit 'n definitiewe bestelling wat hulle maandeliks ontvang, kon wees.

    'n Klein tuindiens, byvoorbeeld, sou 'n vaste inkomste uit die tuine wat hulle weekliks doen, ontvang en veranderlike inkomste sou spruit uit ekstra werk, soos seisoenale skoonmaak.

    Vir individue is vaste inkomste die salaris wat hulle elke maand ontvang. Hulle kry dalk ook geld uit maatskaplike toelaes, of annuïteite.

    Veranderlike inkomste is inkomste uit bronne wat ongereeld en dikwels onverwag is. Jy het dalk 'n belegging wat ongereelde dividende betaal; of jy het 'n boek geskryf en geld word elke 4 maande aan jou betaal; of jy doen peuselwerkies wat saam met die seisoene wissel. Of jy kry 'n kontrak om lesse vir Mobischool te skryf!

    Individue wat vir 'n loon werk, het 'n veranderlike inkomste aangesien dit van die ure gewerk afhang. In Suid-Afrika doen baie mense ook tydelike werk, of stukwerk, en dit is ook veranderlike inkomste.

    Dit is belangrik vir individue en maatskappye om te begroot om seker te maak dat hulle al hulle verpligtinge kan nakom.

    Dit is makliker om koste te sny as om ekstra inkomste te verdien. As jy dus elke maand te min geld het, sny jou uitgawes!