Graad 12 Wiskundige Geletterdheid

  • Les 11-Gelykbreekpunt analise 1
  • NOTAS
  • Gelykbreekontleding

    In eenvoudige terme is die gelykbreekpunt die punt waar totale uitgawes en totale inkomste gelyk is. Die gelykbreekpunt kan beskryf word as 'n punt waar daar geen wins of verlies is nie. Die maatskappy het “gelyk gebreek.”

    Daar is verskeie maniere waarop die gelykbreekpunt vasgestel kan word.

    Stel 'n tabel vir totale inkomste en totale uitgawes op en kyk waar die waardes vir die twee dieselfde is.

    Skets grafieke van die totale inkomste en uitgawes. Die gelykbreekpunt sal wees waar die 2 grafieke mekaar sny.

    Gebruik die vergelykings vir die totale inkomste en uitgawes en los die gelykbreekpunt algebraïes op.

    Om enige van bogenoemde metodes te gebruik, sal ons vergelykings vir die inkomste en uitgawes van 'n besigheid moet skryf.

    Onthou dat die uitgawes beide die vaste en die veranderlike uitgawes moet insluit.

    Laat ons eers kyk hoe 'n grafiek wat inkomste en uitgawes aantoon, lyk en wat ons daaruit kan lees.

    As die uitgawes meer as die inkomste is, ly die besigheid 'n verlies.

    Op die grafiek sal die uitgawes-lyn bo die inkomste-lyn lê.

    As die uitgawes presies dieselfde as die inkomste is, breek die besigheid gelyk.

    Op die grafiek is die gelykbreekpunt waar die twee lyne kruis. As jy gevra word om aan te toon waar 'n lesing geneem is, maak seker dat jy dit OP die betrokke as aandui, en nie BY die snypunt nie.

    As die uitgawes minder as die inkomste is, sal die besigheid 'n wins maak.

    Op die grafiek sal die uitgawes-lyn onder die inkomste-lyn lê.

    Gelykbreek kan ook gebruik word om die koste van twee opsies in 'n gegewe situasie te vergelyk.