Graad 12 Wiskundige Geletterdheid

  • Les 3-Klassifisering van data
  • NOTAS
  • Dataklassifisering

    Data kan in twee hoof kategorieë geklassifiseer word:

    1.Kwalitatiewe

    2.Kwantitatiewe

    Kwalitatiewe data

    Dit is 'n kategoriese meting wat in woorde deur middel van 'n natuurlike taalbeskrywing aangeteken word en nie in terme van getalle nie.

    Oor die algemeen:

    Behels beskrywings

    Data kan waargeneem maar nie gemeet word nie.

    Kwalitatiewe → Kwaliteit

    'n Paar voorbeelde van kategorieë wat kwalitatief sou wees, is kleure, teksture, reuke, smake, voorkoms, geslag, godsdiensvoorkeur, sosio-ekonomiese status, ens.

    Dit is beter om hierdie soort data vir die beantwoording van hoe- en waarom-vrae te gebruik en dit werk nie goed met wat-, wanneer- en wie-vrae nie.

    Kwalitatiewe data voorsien gedetailleerde inligting om komplekse kwessies te verduidelik, maar dit is moeilik om te ontleed. Die inligting kan met behulp van oop vraelyste, ongestruktureerde onderhoude en ongestruktureerde waarnemings ingesamel word.

    Kwalitatiewe navorsing is nuttig vir studies op die individuele vlak, en om in diepte uit te vind hoe mense dink of voel (bv. gevallestudies).

    Kwantitatiewe data

    Kwantitatiewe data is data wat deur syfers aangeteken word.

    Werk met syfers

    Data wat gemeet kan word

    Kwantitatiewe → Hoeveelheid

    'n Paar voorbeelde van kwantitatiewe data is:

    Lengte, hoogte, oppervlakte, volume, gewig, spoed, tyd, temperatuur, voggehalte, klankvlakke, koste, lede, ouderdomme, ens.

    Dit is beter om hierdie soort data vir die beantwoording van wat-, wanneer- en wie-vrae te gebruik.

    Kwantitatiewe data kan in kategorieë, of in rangorde geplaas word, of in maateenhede gemeet word. Hierdie soort data kan gebruik word om grafieke en tabelle met rou data op te stel.  Dit is maklik om te ontleed.

    Kwantitatiewe data word gewoonlik met behulp van opnames, vraelyste of bestaande databasisse ingesamel.

    Voorbeeld wat kwalitatiewe en kwantitatiewe data vergelyk:

    Neem 'n koppie koffie.

    Die kwalitatiewe data sou wees:

    ruik baie lekker

    lyk skuimerig

    sterk smaak

    pers koppie

    Die kwantitatiewe data sou wees:

    250 ml vloeistof

    bedien teen temperatuur van 65ºC.

    beker is 12cm hoog

    koste R18

    Kwantitatiewe data word verder in 2 groepe verdeel: diskrete en kontinue data

    Diskrete data

    Diskrete data is data wat getel word. Hierdie soort data het definitiewe, spesifieke waardes of hoeveelhede en kan slegs heelgetalle wees.

    Voorbeelde:

    die aantal motorfietse op die pad

    die aantal mense wat verskillende soorte motors bestuur

    die aantal seuns en dogters in 'n klas

    In nie een van hierdie gevalle is dit moontlik om 'n breuk van 'n waarde te hê nie; d.w.s. jy kan nie 'n halwe motorfiets of 'n halwe persoon hê nie.

    Kontinue data

    Kontinue data is gemete data. Hierdie soort data word deur meting verkry en kan enige waardes binne 'n omvang aanneem; d.w.s. jy kan breuke of desimale kry.

    Voorbeelde:

    Ouderdomme van leerders in 'n skool, soos 17 jaar 6 maande (17,5 jaar oud)

    'n Persoon se lengte: kan enige waarde wees (binne die omvang van menslike lengtes), nie slegs sekere vaste lengtes nie

    Tyd in 'n wedloop: dit word in breukdele van 'n sekonde gemeet

    'n Hond se gewig

    'n Opsomming sou dus soos volg lyk:


    Voorbeeld: Gee kwalitatiewe, diskrete en kontinue data omtrent die twee honde.

    Kwalitatief:

    Hulle is bruin en wit

    Hulle het kort hare

    Hulle slaap

    Kwantitatief:

    Diskreet:

    -Daar is 2 honde

    -Hulle het 8 bene

    Kontinu:

    -Hulle weeg 9,2 kg en 11,5 kg

    -Hulle staan 300 mm hoog

    In Wiskundige Geletterdheid het ons te doen met kwantitatiewe data wat gesorteer, opgesom, ten toon gestel en ontleed kan word.