Graad 12 Wiskundige Geletterdheid

  • Les 2-Ontwerp van 'n vraelys
  • NOTAS
  • Die ontwerp van 'n vraelys

    Met die ontwerp van 'n vraelys is dit belangrik om die volgende te doen:

    Besluit waarvoor jy wil toets.

    Besluit wie jy wil toets en of jou steekproef redelik verteenwoordigend is van die bevolking wat jy ondersoek.

    Toets die vraelys om vas te stel of daar enige probleme met die interpretasie van die vrae is.

    Die vraelys moet:

    1.'n duidelike titel hê, sodat mense weet waaroor dit handel. 

    2.maklik verstaanbaar wees. Gebruik verstaanbare taal gemik op die mense onder wie jy die opname gaan doen. Neem hulle ouderdom, vlak van opvoeding en enige ander relevante kulturele kenmerke in ag wanneer jy besluit hoe om jou vrae te formuleer.

    3.maklik wees om in te vul, met genoeg ruimte om in te skryf, of blokkies te merk, indien moontlik.

    4.oop en geslote vrae bevat. (Sien later.)

    5.kort wees.

    6.nie vir persoonlike inligting soos naam, ouderdom, inkomste of adres vra nie, veral as dit nie relevant vir die opname is nie.

    7.hoflik wees en die persoon vir die invul van die vraelys bedank.

    Oop vrae

    Dit is vrae wat 'n persoon toelaat om in sy/haar eie woorde te antwoord en 'n eie mening uit te spreek.

    Dit begin dikwels met die volgende:

    Hoe voel jy omtrent…..?

    Wat het jy gedoen…..?

    Wat is jou mening oor….?

    Waar...?

    Oop vrae is dalk moeilik om te ontleed en kan tydrowend wees, maar gee 'n beter idee van hoe mense voel.

    Geslote vrae

    Dit is vrae wat mense dwing om 'n keuse te maak.

    Hulle kan net in een woord, of baie kort frase, beantwoord word.

    Dit sluit in:

    Vrae waar die keuse van antwoord ja/nee, manlik/vroulik, ens. kan wees.

    'n Reeks reaksies wat gegee word. 

    'n Versoek om moontlike reaksies te takseer.

    Hier is voorbeelde van geslote vrae:

    Waar gaan jy skool?

    Geniet jy die skool?

    Neem jy aan buitemuurse bedrywighede deel?

    Hoe kom jy by die skool?

    Hoeveel vakke neem jy?

    Die eerste 3 kan soos volg na oop vrae verander word:

    Waarom sou jy jou skool by leerders wat nie in dieselfde skool is nie, aanbeveel?

    Waarom hou jy van/hou jy nie van skool (nie)?

    Aan watter buitemuurse bedrywighede neem jy deel en hoe dink jy maak dit van jou 'n beter persoon?

    Die laaste 2 kan soos volg na geslote vrae verander word, wat makliker sal wees om te organiseer, voor te stel en te interpreteer:

    Hoe kom jy by die skool? Kies een van die volgende:

    -Stap

    -Motor

    -Bus

    -Taxi

    -Fiets

    Kies uit die volgende lys die vakke wat jy op skool neem:

    -Engels

    -Afrikaans

    -Wiskunde

    -Wiskundige Geletterdheid

    -Wetenskap

    -Biologie

    -Geskiedenis

    -Aardrykskunde

    -Rekeningkunde

    -Besigheidstudies

    -Verbruikerstudies

    -Ander:

    Spesifiseer __________________________