Graad 12 Wiskundige Geletterdheid

  • Les 1-Insamel van data
  • NOTAS
  • Insameling van data

    Statistiek word omskryf as “die wiskundige wetenskap wat met die insameling, ontleding, interpretasie en voorstelling van data verband hou.” 'n Alternatiewe definisie is dat statistiek “die wetenskap van besluite neem in die lig van onsekerheid” is. 

    Waarom is statistiek belangrik?

    Mense gebruik statistiek om jou tot 'n spesifieke opinie te probeer oorhaal.

    As jy verstaan hoe inligting ingesamel en ontleed word, sal jy data wat aan jou voorgehou word, kan interpreteer en dus jou eie gevolgtrekkings kan maak.

    Statistici is daaraan gewoond om kwessies met behulp van die insameling, verwerking, interpretering en voorstelling van data te ondersoek.

    Datahantering is 'n deurlopende proses en die volgende diagram toon aan hoe statistici hulle werk doen.

    Spesifiseer die probleem en beplan; samel data uit 'n verskeidenheid bronne in; organiseer en stel die data voor; interpreteer en bespreek data

    Data is inligting wat ingesamel en georganiseer is.

    Hoe samel ons data in?

    Direkte waarneming

    Nasionale sensusse

    Rekords van klante en verkope

    Opnames met behulp van 'n vraelys

    Direkte waarneming – jy wil dalk uitvind watter kleure huise in verskillende voorstede geverf word. Jy sal dan deur die voorstede ry en 'n telling van die verskillende kleure hou.

    Nasionale sensus – dit word deur die regering gedoen en betrek die hele bevolking.

    Telefoonopnames – dit is 'n opname wat deur middel van 'n onderhoud oor die telefoon gedoen word.

    Rekords van klante en verkope – die meeste besighede het nou al rekenaars en hou rekord van hulle verkope. Groot supermarkte sal hulle verkope bymekaar kan sit om vas te stel watter produkte meer gewild as ander is, en dan in staat wees om hulle bestellings aan te pas, of selfs die posisie van die produkte op die rakke te verander om te sien of dit verkope verbeter.

    Opnames

    Een van die mees algemene maniere om data in te samel, is met behulp van 'n opname.

    'n Opname neem dikwels die vorm van 'n vraelys aan. (Sal in die volgende les in meer besonderhede behandel word.)

    Die ingesamelde data kan 'n mengsel van kwalitatiewe en kwantitatiewe data wees.

    Dit neem baie tyd in beslag om inligting uit 'n groot groep mense te verkry, dus is dit algemeen om eerder 'n lukrake steekproef van mense te kies.

    Met hierdie metode kan inligting omtrent 'n groot groep met behulp van die data wat uit 'n klein groepie ingesamel word, bestudeer word.

    Waarom gebruik ons 'n steekproef?

    Dit neem minder tyd en spaar geld.

    Hoe kies ons die steekproef?

    Ons kies uit die bevolking wat ondersoek word.

    Wat is die bevolking?

    Dit is die totale stel mense wat ondersoek word, wat binne 'n stel kriteria (hoër middelklas/universiteitstudente, ens.) val. Dit sal verskil op grond van wat ons probeer uitvind.

    Voorbeeld:

    Vir 'n opname oor haarstyle wat in 'n skool toegelaat moet word, wie behoort gekies te word?

    Dit sal afhang van wie se opinie ons probeer vasstel.

    Die moontlike bevolkings is:

    Die leerders by die skool.

    Die onderwysers by die skool.

    Die ouers van die leerders by die skool.

    Die gemeenskap waarin die skool geleë is.

    Elk van bogenoemde groepe mense sal waarskynlik heeltemal verskillende opinies hê.

    Dalk neem ons 'n lukrake steekproef uit almal, omdat ons wil vergelyk hoe die verskillende bevolkings dink. Byvoorbeeld, as die skoolbestuur besluit het om die leerders te laat besluit, dan sal die opname net onder die leerders van die skool gedoen word.

    Waarom is dit nodig 'n lukrake steekproef te kies?

    Die rede is dat, as die steekproef nie lukraak is nie, dit tot vooroordeel kan lei.

    Vooroordeel beteken dat een opinie, of uitkoms, onbillik in die steekproef verteenwoordig, of beïnvloed word. Met ander woorde, die steekproef stel die bevolking wat bestudeer word, nie akkuraat voor nie. 'n Onbevooroordeelde steekproef moet (ideaal gesproke) dieselfde kenmerke as die hele bevolking wat ondersoek word, hê.

    Lukrake steekproewe kan op verkillende wyses verkry word:

    Deur name of getalle uit 'n hoed te trek.

    Deur syfers toe te wys en dan met behulp van 'n lukrake syfergenereerder die steekproef te kies.

    Deur name teen 'n gereelde interval van 'n lys af te kies.

    Voorbeeld:

    Vir die opname oor haarstyle in 'n skool, behoort miskien 20% van alle leerders die opname in te vul, as net die leerders se opinies verkry wil word.

    Miskien kan daar dan ook 20% uit elke graad wees.

    Dit moet oor die graad versprei wees.

    'n Alfabetiese lys kan vir die graad gedruk word en elke 4de of 7de leerder kan gekies word, afhangend van hoeveel nodig is.

    'n Verdere voorwaarde vir die steekproef kan bepaal dat die steekproef die geslagsverhouding in die skool moet verteenwoordig. Dit beteken dat, as 60% van die leerders dogters is, 60% van die steekproef ook dogters moet wees.

    Miskien besluit die skoolbestuur dat hoe hoër die graad, hoe meer moet hulle verteenwoordig word.

    Of die hoër grade se antwoorde kan in die finale ontleding volgens die een of ander reël belaai word.

    Die antwoorde van 'n Graad 8 of 9, kan dalk 1 tel, 'n Graad 10 s’n 2 en die Graad 11 en 12 s’n 3.

    Daar is baie kriteria wat met die kies van die steekproef oorweeg moet word en die uitkoms sal van die aanvanklike keuse afhang.